Ons kom, ons kom!!!

Hierdie hoofstuk sluit by ñ menigte voriges aan. Jy sal dalk frons, jy sal dalk wonder. Ja, Rebus bestaan. Vir ons, en dalk vir jou.

Ons is ñ groep vroue, bloggers, en tussen ons klompie het ñ dorp ontstaan, Rebusfontein. Iewers in Suid-Afrika. Iewers in ons lieflike land.

Rebus is ons wegloop-plek, en soms ons wegkruipplek. Maar feite is, Rebus is ONS s’n.

As jy ooit lus is om deel te word, om deel te neem, sê net, en jou droom sal bewaarheid word.

Liewe land dit gebeur mos so, net soos jy nou wil vertrek, val daar weer iets voor om jou te vertraag. In engels sê hul “Murphey’s law”, dis nou net daai ene wat my pootjie, ń stok in my speek steek, my bloeddruk opjaag. (By wyse van spreuke, defnitief. Myne is in realiteit te laag op gou opgejaag te word🤣).

Karolus is al in sy hondetaal besig om diep gesprekke met my te voer, hy is ongeduldig, sy maters wag en hy weet elke besoek aan Rebus lewer nuwe vriende op. Hy en Danie het juis die vorige keer op ń wandeling die interessantste grot ontdek en wil gaan verken dit beloof baie pret vir die twee en hulle maters.

Uiteindelik is alles gelaai, nog net een of twee stoppe vir proviand, dan is ons oppad. Hierdie keer geen hoenders nie, ons is juis baie nuuskierig om te sien hoe dit met die broeiery gaan daar by ons huisie. Dis ook mos my huis se naam, Ons huisie. Ek het juis ń nuwe naambord gemaak wat opgesit moet word.

Heerlik, heerlik! Diep teue Rebus lug word ingetrek. Ek en Karolus skarrel na binne, ek gooi vensters oop. Dankie tog dat Rebusfontein geen stof het nie, anders sou ek nou moes skoonmaak en daarvan het ek genoeg in my werklikheids wereld. Nou kan ons net tuis kom en alles geniet.

Ek gooi ń vinnige draai buite by my hoender kinders. Hennie kom azngewaggel met ń string kuikens agter haar en my prag skou haan gee ń trotse kraai. Alles goed hier op Ons huisie se werf.

Genade, wat se kabaal is daar voor in die straat? Ek draf uit, met Karolus op my hakke. Una loop voir en die ander streep agterna. “Wat nou?” Vra ek, maar niemand hoor my eers nie. Ek wil mos laat wees, nou tou ek maar so agter-osserig saam.

Blommetjie! Jy het verander in ń skildery!

My wandel

Vanoggend praat ek met my broer se dogter, kom agter daar is ń diep diep seer in haar oor haar oorlede pa, my ouboet. Dit het my baie diep geraak en laat terug dink.

Daar was die tyd na ek Jesus ontmoet het en sy pad begin loop het, dat daar ń lelike ding in my gebeur het. Ek het dit nie toe besef nie en het geglo ek doen reg. My optrede het egter soveel skade op soveel gebiede aan gerig, wat ek nie toe raak gesien het nie. Ek was so vol van die Here en hierdie nuwe ontdekking van Hom en Sy woord, dat ek rigied teenoor ander geraak het. Soos die spreuk sê: I was so heavenly minded, that I was no earthly good”

Ons moet as Christene daarteen waak dat oordeel nie insluip op so ń subtiele manier dat dit reg lyk. Nie pertinente oordeel nie, nie wat jy met woorde uiter nie, maar deur jou afkeur in jou binneste, wat tog uit kom in ons lyftaal. Ai, ek het nog hierdie gesig, wat baie gou my binneste denke wys.

My oudste broer was ń alkolis, hy was ń “joler”, ń grootmond en hy kon lieg. My ma het altyd gesê: “Ag jong, dis weer Chrisjan praatjies, sy more en aand stories kom nie oor een nie” of “Vat maar wat hy sê met ń knippie sout” So julle kan dink dat ek met groot afkeur na hom gekyk het. Hy was die vergestalte van alles wat in my wet verkeerd was. Hy het self vir my ma gesê: ” Ek dink mos ek is hoog heilig”. Nodeloos om te sê dat daar ń Grand Canyon tussen ons gekom het. Uit plig het ons daar by hulle gaan inloer, het ek so nou en dan gebel.

Ek het hulle nooit op gesigvlak gekritiseer nie, nooit dit uit gespreek nie, maar my wese, dink ek, het my afkeer gewys. Ek het later jare ń wonderlike verhouding met hulle een dogter op gebou, dis juis met haar dat ek vanoggend gepraat het. Ek kon soveel meer vir hulle beteken het, as ek net verby my hoog heiligheid kon kom. Dan sou ek haar dalk kon help met haar seer daardie tyd en miskien in nederigheid ń inspraak in hulle lewe kon hê. Sy optrede ko op geen manier geregverdig word nie, maar ek moes hom en sy gesin, met Jesus liefde omarm het. Ek het nie.

Hoogmoed kom tot ń val, nou praat ek nie van wereldse hoogmoed nie, maar geestelike hoogmoed. Onthou een ding, satan hou nie van ons wandel met God nie. Hy sal enige iets doen om ons te laat struikel. Hy sit werklik en wag soos ń brullende leeu om te verslind. My maalkolk het ook op ñ dag gekom, ek was nie sterk genoeg nie en is mee gesleur en verpletter teen rotse, alles waarin ek geglo het byna vernietig. Ek dank die Here, dat ek glo daardie tyd was daar vir my gebid. Ek dank ook die Here vandag vir daardie val. In die proses het my rigiede hart gebreek en daar ń verstaan en vrrdraagsaamheid teenoor ander in my kom nes maak.

Ek het vir my broer gaan kuier daardie Desember, ons het nie gepraat oor die verlede nie. Ek was net vir hom sy sus wat hom lief het. Nie goedkeur nie, maar omvou in liefde. Dit was ń goeie tyd saam en daarna tot hy ń paar maande later oorlede is het ons twee, drie keer ń week met mekaar gepraat. Ons was net broer en suster, ek het geluister. Soms moet ons net luister, sonder oordeel. Ek glo voor hy dood is het hy met Jesus reg gemaak. Ek weet net, ek het stille vrede in my gehad, dat wat lelik was tussen ons, vervang is met liefde.

Ek het ook in hierdie rondomtalie tyd, weer bande opgetel met ń ou geestes suster, ń harts vriendin. Daaroor is ek tot in ewigheid dankbaar. Sy is so ń kosbaarheid in my lewe en amper het ek dit gemis.

Punt is – pasop vir ń rigiede hart, pasop vir binne oordeel, pasop om so op die hemel gefokus te wees, dat ons hier op aarde ons doel mis. Wees nederig en kyk na Jesus. Hy het hom nie hoër geag as die tollenaar, die samaritaanse vrou, die leviet en menige ander. Hy het hulle om vou met liefde. Pasop vir daardie binne oordeel, veragting. Dit is mos reg, dis mos woord gefundeer. Moet jou nie met die semels meng nie, dan vreet die varke jou op.

Die ou Hannelie, sou nooit in Bali met hindoes kom besigheid doen en lief word vir die mense nie, asook in Java met moslems. Ek sê nie verloën God nie, hulle moet weet wat jy glo en waarvoor jy staan. Daar is egter ń tyd vir alles, ook ń tyd om stil te bly. Om ń hand in liefde uit te steek en ń ander hand in joune te neem, oor geloofs en kultuur grense heen. Vandag weet ek hoeveel ek sou uit mis, hoeveel armer ek sou wees. Ek sou nogsteeds my broer verag het en met ń klip in my binnemens moes loop. Ek sou soveel meer gemis het, maar ek het genade ontvang al moes ek eers soos ń wurm seil. Ek het nie daardie tyd gedink ek doen verkeerd nie, ek het mos die nou paadjie gestap. Vandag weet ek anders, kyk ek anders.

My kuiers by oupa

Ek het vandat ek kan onthou ń oupa gehad wat baie ver van ons af gebly het. Ons het in Johannesburg gebly en my oupa in die bosveld by Groot Marico.

Julle moet onthou toe ek klein was het die wereld anders gelyk as vandag. Ons het nie telivisie gehad nie, ook nie selfone en rekenaars nie. So ons kontak met oupa was twee keer ñ jaar, April en Oktober vakansie. Ons het ook nie ń kar gehad nie. Ek weet julle kan nie glo dat ñ mens nie ñ kar gehad het nie. Vir my was dit nie snaaks nie, dit was hoe dit was. Wag, ek wil nie nie daaroor skryf nie, ek wil julle vertel van ons kuiers by oupa.

Daardie jare was daar ń spoorwegweg bus, so ń rooie. Hy het van stasie tot stasie gery en mense op en af gelaai. Ek en my mamma het met so ń rooi bus na my oupa gery. Iemand sou ons by Johannesburg stasie aflaai, met al ons bagasie. Weet julle wat bagasie is? Dit is nou jou tasse en, in ons geval, blikke vol koekies en beskuit vir oupa. O ja, daar was ook padkos, want so ń bus kon lank vat om by Groot Marco uit te kom. Padkos is altyd ń heerlikheid, lekker klein frikadelle, gekookte eiers, broodjies, klein stukkies gaar wors en klein suur uitjies.

Op Groot Marico aangekom, moes ons na die winkel stap. Die winkel het aan “Kat” en haar familie behoort. Hulle was Indiërs wat so ń algemene handelaar, regte plaaswinkel, op die klein dorpie gehad. Daar was nie taksies nie, so een van hulle het ons plaas toe geneem.

Oupa het in ń ou klein platdak huisie gewoon, daar was geen elekrisiteit nie, geen krane, geen binneshuise toilet of badkamer nie. Daar was wel ń put toilet buite en ons het in ń skottel gewas. Water is met emmers aan gedra huis toe.

Daar was twee vertrekke, een oupa se kamer en die ander een, die res van die huis. Oupa was ń wonderlike man, hy was lank en oud, hy het singerig gepraat. Hy kon die mooiste gedigte voordra, wat hy self geskryf het. Heerlike storis vertel, nie juis kinderstories nie, maar vir my baie mooi. My oupa het net 10 maande skool gegaan, toe breek die oorlog uit.

My lekkerste vermaak was om met stokkies as bootjies hulle te laat resies jaag in die watervoor. Oral oor die voor was sulke hout bruggies waar jy dan weer jou stokkie-bootjies kon uithaal. Dit was hoe vars water by die plase uit gekom het, met die water voor of ook genoem leivoor.. Dit was waar ons moes gaan water haal vir die huis. Daar was ook ń rivier nie te ver van oupa se huis af nie, ek mag net nooit alleen daarheen gegaan het nie. Ons het heerlik pret daar gehad. Geswem, op die klippe gegly en as my groot boetie saam gegaan het, met ń kanoe op die rivier geroei. Later jare toe ek groter was en ek ń maat saam geneem het, sou ons rivier af geloop het en daar op die klipbanke gaan lê het in die son soos klip dassies gebak het en as ons te warm was en dan in die koel water gespring het om af te koel.

Ek moes gaan melk haal op die buurplaas, gelukkig was hul huis nie te ver van oupa se huis af nie. My groot probleem was dat hulle ganse gehad het en hulle het jou gejaag sodra hul jou gewaar. Hulle kon so ń woeste blaas geluid maak en dan moes jy hol dat jy klein word, hulle snawels kon vrek seer byt. Ek is nou nog vrek bang vir ganse, as hulle so blaas wil ek horrie piep kry. Ek moes menige dag soos die wind hol en dit nog met ń houer melk. Dan om alles te kroon moes ek deur die draad klim, ń doringdraad. Ek dink ek was al soos ń wafferse sirkus arties met my manouvers deur daardie draad.

My lekkerste lekker was om op my rug onder ń boom te lê en na al die bosveld voëls se geroep te luister, na die wolke te kyk en allerhande prentjies te sien vorm en hervorm voor my oë. Vandag nog onthou ek daardie bosveld reuk.

Nog ń lekker onthou was my wakker word soggens, my ma sou al vuur gemaak het en die koffie kan sou eenkant staan. Die reuk van vuur en koffie was my eerste gewaarwording as ek ontwaak, dan sal my mamma vir my ń beker koffie met kondensmelk in bring. Nou nog sal ek soms kondensmelk in my koffie gooi, my oë toemaak en terug gevoer word na daardie oggende.

Ek en my mamma het soms na die familie gestap wat in ń kloof ver van oupa af gebly het. Ons sou ons stap onderbreek om by die klipplaat in die rivier te speel. Jy kon ver op jou boude by die klippe afgly. Dit was vet pret. Die mense het met nartjies geboer, dit was so lekker as ons daar gekuier het as die nartjies ryp was, dan sou die oom ons boord toe stuur met ń ” Eet net soveel as julle kan”. Sjoe en het ons ge eet, tot ons regtig nie meer kon nie. Die nartjies was so lekker soet-suur, met baie sap.

Hierdie kuiers by my oupa is my mooiste kind wees herinneringe.