Gister kry ons die boodskap, S het 3 uur vanmiddag rustig na haar ewige tuiste gegaan. Wat, wat, nee dit kannie wees nie.😱 Was sy ernstig siek? Wat nou? Ons het niks geweet nie.
Lank lank gelede in 1993 is my ma oorlede en ek was diep bedroef. Een dag sit en met my gemis en seer voor die Here, hy sê vir my dat hy vir my ń surrogaat ma gee in S. Dit was vir my kosbaar, ons het baie na aan mekaar gegroei oor die tyd.
Hoe ons mekaar leer ken het? Ons was in dieselfde kerk, maar nie soos in vriende nie. Ek het koordanse/christen danse gedoen, een Sondag het ons in die kerk gedans, na die diens het W, haar man, my geroep en gevra of ek ń paspoort het, ek het nie gehad nie, hy het gesê tydens die diens het die Here vir hom gesê hulle moet my saamneem Israel toe. Jy kon my met ñ veer omtik. Nie alleen is ons Israel toe vir die Loofhuttefees (succot) nie, maar ook Egipte toe. Wat ń ongelooflike ervaring. Dit is ń blog op sy eie. Daar het ons ñ verhouding begin bou.
Ons het die wonderlikste bybelstudies by haar aan huis gedoen, vroue uitstappies en heerlike kuiers gekuier. Ek het ń fenominale vrou ontdek, ń vrou wat onvoorwaardelik met haar hele hart die Here gevolg het.
Ons het in 1997 getrek vanaf Heidelberg na die Kaap. Ons vriendskap het voort gevloei deur die jare. Selfs in ń tyd toe ek weg gedwaal het van die Here af en haar hart seer gemaak het, het sy my nooit verwerp nie, sy was altyd daar vir my. Ek dank Vader vir so ń rotsvaste mens in my lewe.
Sy self het deur die jare uit die bitter beker moes drink van ń opstandige kind, wat met verkeerde mense en verslawings deurmekaar geraak het, sy was vas in haar geloof, selfs in daardie tye. N voorbeeld vir ons almal.
Vandag besef ek op een of ander rede was sy ń goue draad tussen my, my ma en die Here, nou is die draad gebreek. Ek voel broos en verlate. Kan nie glo dat hierdie so diep deur my geloop het nie.
Ek sit natuurlik met verwyte, want ek het nie geluister toe Heilige Gees my aangepor het om haar te bel nie, dat ek nie meer gaan kuier het nie, dat ek nie kon groet nie. My lief vriendin/ma/mentor ek salueer jou. Ek groet jou hier, want ek sal nie eers by jou begrafnis kan afskeid neem nie. Ek het net nie die middele om daar te wees nie, weet as ek kon sou ek daar wou wees.
Jou son het gesak en jou ewige son het opgekom, jy wat met soveel pyn geleef het, kan nou vry vir jou Koning dans.