Dis so ń lekker sê woord. Hy klink soos hy is, lekker deurmekaar. My gunsteling woord, toe ons by Woordfees ń woord kon borg. Ongelukkig vir my was dit ook iemand voor my se woord, so borg kon ek nie, maar dis my woord. My lekker sê woord.

In Lisa se een storieboek het Katrina of Katryntjie harlaboerla hare en die goggas het daar ingetrek, wys jou net watter heerlike nes was dit vir hulle.

Wat sê ons woordeboeke oor die woord, Pansegrouw se super blokraai woordeboek sê – chaos, deurmekaarspul, dolliwarie, geraas, geroesmoes, halsoorkop, harwar, holderstebolder, lawaaispul, ontstigtelikheid, opskudding, rumoer, verward, verwarring, wanorde.

Nou dis hoe my binneste drade vandag voel, ek het nodig om te sinc.

Om te sinc moet ek iewers alleen wees in God se natuur, waar ek en Hy kan wandel. Waar die wind se lied saggies die droë blare weg waai, waar die bome en plante in jubelsange kan uitbreek, waar ek net kan wees.

Dit was Bali vir my, in my winkel lewe dae. Ek kon weer uit ń harlaboerla sin maak. Ek kon daar pad vat en stap sonder plan in die natuur, ek kon veilig alleen wandel, beleef en indrink. Daar waar niemand my ken nie, daar waar min my taal praat, daar waar mense nog aards is, sonder fieterjasies en geite. Waar ń mens se menswees nog saak maak, al is jy vreemdeling tussen hulle, omvou hulle rustige vriendelikheid jou toe en kan jy diep, baie diep asemhaal.

Vandag wil ek rysland paadjies stap, klein bospaadjies, selfs op die teerpad, selfs daar is jy rustig, is jy veilig. Tyd maak nie saak nie, want jy het vandag uitgekoop uit ń bedige skedule. Jy gaan later langbeen in die koelte op die strand sit as ons groot skilder sy skilderkwas uithaal om flambojante taferele te skep in die hemelruim as die dag groet. Jy gaan vredig ń kossie eet by ń strand kafee onder die sterreprag en jy gaan in jou reg voel. Soos die aardplate skuif, so het jou binnekant weer reg geskuif.

Nou sit ek hier met harlaboerla drade en ek wil pad vat.