So lees ek op facebook raak dat daar ń stap gaan plaasvind van Muizenberg na Simonstad. Dis ń pappa wat verlede Desember met sy dogter die roete gestap het en mense uitnooi wzt wil saam stap. Ek dink net nie hy het gedink hierdie stap gaan so byval vind nie.
Saterdagoggend 9.00 die 24ste November kom almal bymekaar langs Muizenberg stasie.
Ek het omtrent gesoek om ń mede stapper te vind, amper moed opgegee. Vriendin Elsa willig in Doncerdag, sy kom sommer oorslaap, dat ons die tog Muizenberg van hier af kan aanpak.
Danksy tannie Garmin ry ons toe mog ń lang pad en raak ek vrek benoud. Genadiglik kry ons parkeerplek by die stasie, wat opsigself ń wonderwerk is. Twee minute voor nege kry ons die plek waar jy onderdeur die spoorlyn stap strand se kant toe. Met ons uitkom aan die anderkant het my mond oopgehang. Daar was hordes mense.
Almal het heerlik gestap en kuier. Hier en daar was daar haastiges, maar merendeel het almal dit heel gesellig benader. Langs die pad het jy kort kort een of ń paar mense wat eers aftrek om hul eie ding te doen. Gesinnetjies, mammas met kinders, oues, jonges, letterlik alle kleure, ouderdomme en grootes was daar.
Ek was verstom oor hoeveel pragtige plekkies jy mis as jy met die kar verby ry. Die getypoele was pragtig.
As jy nou van Muizenberg af stap, volgende is Kalkbaai, dan Vishoek, volgende Glencairn en dan Simonstad. 16.4km.
My tekkies besluit toe om by Vishoek so effens te begin gaap. Net so ent anderkant Vishoek gaap hulle so dat ek wil struikel. Gelukkig het slim Sannie haar crocs ingepak. So van daar af stap ek met my crocs op die pad en strandlangs kaalvoete.
Die reëling was dat almal met die trein sal terug ry na Muizenberg, maar o gorrel griet met ons aankoms daar word ons meegedeel dat daar fout is en hulle werk aan die spoorlyn. So wat nou? Terug stap – Ek dink nie so nie. Daar is ook nie busse nie. Wat bly oor? Uber of jy doen die Afrika ding en ry minibus taxi. Daar was ń hele paar onseker mensies daar. Kan jy dit met veiligheid doen?
Ons kies laasgenoemde en ry op Afrika styl terug na Muizenberg met dawerende volksvreemde musiek in ons ore en daar is defnitief verkersoortredings begaan tydens die rit. Daar is baie gelag ook.
Op Muizenberg asngekom het ons onself beloon met n yskoffie en ietsie te ete by ń knus eetplekkie met see uitsig en ons self op die skouer geklop met ń “well done”.