Diere pandemonium

Hierdie vorm deel van ‘n storie wat deur ‘n groep vroue, die Goue Vroue, geskryf word. Lees al die avonture hier: https://fresh.inlinkz.com/party/222c461d2afc4999aca03fa567cd84ea

Op Rebusfontein is dit totale chaos, die Rebus-diere sit vasgevang in Frannie se toring, hulle is te bang om uit te gaan. Nou neem kos en water kritieke laagtepunte aan en hulle besef hulle sal moet plan maak met die wilde diere anders gaan daar niks oor wees van die mooie Rebusfontein nie en hulle almal sterf van honger en dors. Die pragtige watergat is nou net een groot modder papperasie. Die water baie min. Dadelik belê hulle ń noodvergadering.

Daar word woes kop gekrap en voorstelle voor gelê, planne word beraam. Uiteindelik word besluit Faye sal uit moet vlieg tot by Blommetjie, (sy is gelukkig so klein dat sy ongesiens daar kan kom). Blommetjie en seekoeitjie moet dan op een of die ander manier die wilde diere uitlei uit die dorpie uit na die waterval. Daar sal genoeg water wees, nog skuilplek in die grot en genoeg gras en plante om te eet. Hulle kan dan daar bly tot die goue vroue terugkeer.

Die diere loer angstig by die vensters uit om te sien of hulle plan gaan werk. Gelukkig kan diere met mekaar kommunikeer en sal seekoei ten minste die wilde seekoeie kan oortuig om haar te volg. Faye sal by Blommetjie bly en vir haar die pad wys na die waterval, nie een van die twee was al by die waterval nie, aangesien dit uit ń verhaal kom voor hulle tyd. Danie en Karolus ken egter die pad en het mooi vir Faye die koòrdinate gegee.

Hulle sien hoe Blommetjie begin aanstap in die regte rigting en slaak ń sug van verligting, toe hulle sien die seekoeie volg, daarna die olifante en die blouwildebeeste. Dit lyk kompleet soos die Israeliete se trek uit Egipte.

Met die laaste stoffie in die verte begin al die diere na buite beweeg met groot verligting, arme Frannie se toring sal moet gefumigeer en geskrop word na die diere se verblyf daar. Hulle staan egter verslae toe hulle die vertrapte grasperke, die papery dam aanskou. Hulle sal moet hulp kry om hierdie chaos te herstel voor die goue vroue terugkeer. Hulle gees is gewillig maar hulle vlees is onvoldoende vir die taak. Een van die honde word gestuur om vir Boeta te gaan soek, hy sal moet kom help.

By die waterval het al die wilde diere hulle tuis gemaak en word daar vreedsaam gewei en geswem. Die seekoeie geniet die waterpoel onder baie meer as die dorpsdammetjie. Dit begin al meer na huis voel.

Blommetjie het stilletjies terug gesluip meent toe, sy het egter seker gemaak geen wilde dier volg haar nie. Daar was ń blye weersiens tussen haar en die Rebus-diere. Hulle het beluit dat hulle ń brandwag sal moet aanstel om te waarsku as daar nog ongewensde besoekers opdaag. Gelukkig weet hulle nou uit watter rigting die verrassings kom.

Daar is weer vrede op Rebusfontein.

My stuiwer

Die Goue Vroue is ‘n handjievol Suid-Afrikaanse vroue – oud en jonk – wat lief is vir skryf.  Ons is geanker in die werklikheid, maar spoor mekaar met bloguitdagings aan om te fantaseer.  “The Talking Stick” dien in hierdie geval as inspirasie tot wonderbaarlike stories…elke Goue Vrou kry haar beurt.  Hierdie rondte pak ons in alfabetiese volgorde aan.

Dit werk so: as jy die praatstok vashou is dit jóú beurt! Jy praat en die ander moet luister sonder om jou in die rede te val. As jy klaar is met jou storie, gee jy die praatstok vir die volgende persoon aan. (Hierdie konsep is deur Stephen en Franklin Covey in hulle kursusse tot meer effektiwiteit benut om empatieke luister te bevorder).

Volg hierdie skakel as jy ons Goue Vroue se stories in volgorde wil lees:
https://fresh.inlinkz.com/party/fe16b378ba494670a41c59177986b35

Nou is dit my beurt, na die praatstok ń skielike ompad moes maak na Toortsie en Woordnoot. Sien as die swarthond op my toesak gryp hy al my woorde uit my mond, my energie uit my lyk en trek my brein toe met ń miskombers. Sulke tye is die beste wat ek kan doen, is oorleef.

Dankie Woordnoot dat jy hom nou aangegee het. Hier sit ek nou met die praatstok in my hand en wonder watter storie sal ek oor wil praat, daar is so baie in hierdie tye wat met ons gebeur en wat ons beleef. Na Woordnoot se skrywe en nadat ek gister na Gretha Wiid geluister het, onderstreep dit vir my een woord GENADE.

Die Woord sê vir ons dat God se genade elke dag nuut is. Dink bietjie mooi daaroor, nie opgewarmde genade, tweedehandse genade, gerestoureerde genade of ekses genade nie. Elke liewe oggend spik splinternuwe genade. Die begrip daarvan boul my uit, die Here het ons so vreeslik lief dat ondanks wat ek en jy doen, Sy genade verander nooit en word nooit ooit minder nie.

Nou my tweede gedagte, juis na aanleiding van Greta Wiid se skrywe op facebook, stem ek dat hierdie is ń tyddat ons genade moet betoon teenoor ons medemens. Het jy al in sy skoene geloop, het jy al deel van sy storie geword? Waar jy ook al wandel betoon genade. God weerhou nie Sy genade van ons nie, so hoekom wil ons, ons genade weerhou van die mense om ons. Ons almal kry swaar op verskeie gebiede. Daar is soveel van ons wat sukkel met depressie, met angs. Ons kommer ons oor finansies en voel soms daar is nie antwoorde nie. Juis daarom moet ons met sagte oë kyk na ander. Soms is dit so maklik om hard en krities te wees teenoor familie en vriende, was jy in sy/haar skoene?

Dit is altyd vir my wonderlik hoe die Here met ons kom praat deur dinge wat ons raak luister of raak lees op ons pad.

Juis in die tyd wat die swarthond weer hier om my enkels kom snuffel het en baie hard aan my broekspyp getrek het, om my in die diep donker in te trek, sien ek op facebook ń herinnering foto van my Sylke, toe sy hemel toe is. Die onthou het om my kom vou soos ń wolkombers. Een groot lekker onthou. Dit was ook genade van Vader, die dag tod daardie klein blou oog hondjie my lewe binne gestap het. Julle sien dit was net na die groot, groot donker oor my toe gesak het. Die tyd nadat ek moes terug kom om te kom leef in ń wereld waar ek nie meer deel van wou wees nie, maar Vader my terug gestuur het. Dit was swaar, ek het gevoel asof die gewig om my voete my geknel hou, maar toe kom Sylke en sy klim solied in my hart. In die oggende as ek my uit my bed gesleep het was daardie klein bondeltjie lewe daar om my, my tree te laat gee. Sy was vir my die heel beste terapie.

Later het sy so deel van my winkel lewe geword, sy was Bali Jati se mascot. Almal was mal oor haar en sy het so ń impak op so baie lewens gemaak, maar bo alles in myne. Ek kan heeldag oor haar skryf, vir my was sy die toonbeeld van genade en onvoorwaardelike liefde.

Hierdie dames is hoe ons na ons self moet kyk en vir ons kinders en kleinkinders moet leer, dit is ń absolute toonbeeld van genade. Gaan lees weer Ps139 en dank die Here vir Sy genade.

Ek praat baie hard met myself ook, want soms het ek geen genade vir myself nie. Ek kan baie hard op myself wees, so dink ek doen ons almal. Die feit dat ek vandag weer die lig sien en uit my maag kan lag is genade.