Jy was nog altyd my sus wat ek nie gehad het nie, jy was my geliefde boeta se vrou. Ons het lang paaie saam geloop, diep verliese saam hanteer, mooi drome en lag saam gehad. Laasnag kom jy en vernietig ń baie mooi band.
Jou woorde het my stukkend gesny, jou praat-skree-gille het diep wonde gemaak.
Ek kan onthou toe jy en my boeta begin uitgaan het, hoe jy met sy 10 jarige sussie papierpoppe gespeel het. Daardie lange lange jare terug het ons pad saam begin loop. Ons het soveel saam ervaar, julle dogter se frats ongeluk, toe ń jong lewe onherroeplik verander het. Haar drome aan skerwe gespat het as gevolg van haar breinbesering. Ek onthou hoe die pyn in julle oë gelê het, hoe julle die skerwe van ń briljante kind moes optel en weer aanmekaar moes probeer las. Ek het jou onmag voor haar woede gesien, jy as mamma, die mikpunt van haar toorn. Julle vreugde toe daar beterskap kom, maar steeds julle hartseer vir haar omdat sy nooit ooit weer die Renate sou wees nie, haar seer omdat sy geweet het sy sou nooit kan wees wat sy was of sou kon wees nie. Die tye wanneer sus by ons kom kuier het, sodat julle net bietjie kon rus en net bietjie tyd gehad het vir mekaar. Ons was die enigste in die familie by wie sy wou kuier na die ongeluk. Ons was en is, baie baie lief vir haar.
8 jaar terug ons bittere verlies toe die Here boeta kom haal het, ons het saam vir lank daarna gehuil omdat ons hom saam so baie gemis het. Saam mooi herinneringe opgeroep het en vol nostalgie gevul was. Ek was so bly net voor hy weg is, dat die Here vir my twee weke uitgekoop het om by hom te bly, sodat jy vir sussa oorsee kon neem. Hoe ń wonderlike ervaring dit vir julle was. Min het ons toe kon weet dat sy einde naby is, nee, eintlik het ons diep in ons binnemens geweet sy uurglas loop leeg, maar ons het steeds bly hoop. Dit was ń hartseerdag toe ek hom by die hospitaal moes groet en geweet het ek sal hom nie weer sien nie, maar ek moes huis toe. As ek toe geweet het hy het net ń week sou ek gebly het.
Ons het so uitgesien om vir julle te kom kuier, in hierdie tyd waar ons nou in ń tyd van verandering is, ons het geweet ons kon ons drome met julle deel en so ń stukkie van julle wereld kom ervaar. Die lekker geselstye en saamwees tye.
Dit was vir ons so lekker om vir julle goedjies te doen en te help met probleme in en om die huis, ons weet daar is nie meer ń man in die huis nie. Dit was pure lekkerte toe manlief jou kombuiskaste vir jou kon regmaak en vir jou die solarlig op die stoep installeer. Tog was daar van eergister in jou ń krappigheid teenoor ons. Manlief wou al gister gery het, sy woorde “we overstade our welcome”, ek het gesê nee man kom ons bly nog maar aangesien jy gesê het dit sal gaaf wees as ons jou Wo en Do kon neem vir jou oog operasie en die volgende dag die dokters besoek. Groot was my verbasing toe ek jou inlig dat ons twee dae gaan kuier maar daar sal wees om jou te neem, en jy skielik besluit het vriendin moet jou neem. Dit was ń klap in my gesig, maar ek het aanvaar en weg gestap. Later toe ek jou wou help in die kombuis en jy gesê het jy is gewoond om dit alleen te doen, jy het nie my hulp nodig nie weer ń klappie. So was hulle maar daar die klappe. Ek en manlief koukus toe en besluit ons gaan die volgende dag maar pad vat. Ons stao sitkamer toe om jou mee te deel dat ons voel ons moet maar gaan, we over stayed our welcome. Jy kom toe met ń klomp verwyte en skreeue. Jy jaag ons eintlik maar weg. Ons pak ons tasse in ń ommesientjie, trek weer dagklere aan en pak die kar. Jy kom met, “moenie met my praat as ek kwaad is nie” verskoning, maar helaas dis te laat.
My hartseer loop oor my wange en my binnemens voel gekneus asof deur bokshandskoene gepeper is met linkers en regters. Manlief is kwaad, baie kwaad.
Was dit nou nodig om iets moois so te kom vernietig, of was die mooi in ons verhouding my illusie en jou voorgee. “Boeta daar in die hemel ek is jammer, dit voel my ek het jou gefaal”