Bederf

My vriendin stuur vir my ń boodskappie ń tydjie gelede, wat daarop neerkom dat God weet wat ons nodig het. My antwoord vir haar is: die woord leer ons dat God die vesugtinge van ons hart hoor.

So in die week daarop kry ek so ń verlange in my hart na ń ou skool vriendin. Ons sien mekaar so een keer ń jaar as sy vir haar dogter kom kuier. Sy woon in Koster in Noordwes provinsie. Ek stuur ń boodskappie dat ek wonder wanneer sien ons mekaar weer. Waarop sy antwoord dat sy op die oomblik in Riebeeck Kasteel is op ń blits besoek. Sy het saam met ń vriendin gery, as geselsskap en vlieg weer oor twee dae huis toe.

Hulle beplan ń piekniek by Yzerfontein, as ek kans sien om te ry sal dit lekker wees as ek hulle daar ontmoet. Na die piekniek ontmoet sy haar dogter by Melkbosstrand, waar sy die aand kuier voor sy vroeg die volgende oggend terug vlieg. Ek is dadelik vuur en vlam.

Die oggend het ek vroegerig in die pad geval, sodat ek rustig kon ry. Iewers naby Yzerfontein daal die wete oor my neer…. Ek het ń paar dae tevore gedink hoe lekker sal dit wees as ek net my kar kon vat en alleen koers inslaan vir ń “me-time”dag. Ek voel lus om iets anders as die gewone te doen. So besef ek waarlik die Here het hierdie versugting van my hart gehoor en op ń verassende wyse vir dit kom gee. Soos die dag later omvou het, het ek net meer verstom gestaan. Ek het net geweet, hierdie dag was werklik ń bederf geskenk uit Vader se hand.

Eers het ek stil gehou by Weskus padstal en heerlik gedwaal, daarna kon ek rustig by ń tafeltjie gaan sit met ń heerlike pot tee, terwyl die rustigheid my omvou.

Later na die ander drie dames opgedaag het, is daar eers gaan stap in die tuintjie bo kant die hawe. Daarna is ń plekkie gesoek vir piekniek. Min wetende dat Suzette nog altyd ń boheemse piekniek by die see wou hou, maar nooit die geleentheid gehad het om dit te doen nie. Sy het al die props saamgebring.

Ons het stokke in gekap, lappe gedrapeer, kussings gegooi en al die kos en toebehore uitgepak. Daar was omtrent ń verskeidenheid. Daar was blikbekers vir die lemoensap, tot ń volstruis dop vir water drink. Wat ń heerlike lag -kuier ervaring en mens het weer kind gevoel wat huisies bou met lappe.

Die drie dames is al drie ou Kosterliete, die een het ek in my skooljare daar geken, die een my bestie van skool en die ander een was vir my vreemd, so draai ons paadjies toe op hierdie dag saam tot by die strand op Yzerfontein.

So,  ek het my dag gekry en hy was nogal heeltemal uit die boks. Ek het met ń dankbare hart terug gery laat middag. Ek het so ń warm gevoel, van weet dat my Vader omgee oor selfs die klein dingetjies in my lewe, in my binneste gehad.

 

Brief

Liefste vriendin, laas nag loop ek in my drome, deur jou verlede huis. Die onthou spoel oor my…

Ek sit in die sitkamer saam met jou en sien jou meisiekind en haar maatjie “opdress” speel en in hulle wegstap op n droompaadjie van hulle speel. Jou kaggel brand en ek en jy drink koffie terwyl ons toe kyk…

In jou kombuis werk die perkuleerder hard, want my vriendin, jy was lief vir jou koffie. Ons klets te lekker en met tye raak ons gesprekke diep. Dan maak ons harte oop….

Die vertrek bo op julle garage, laat my gedagtes onwillekeurig draai na die bo vertrek waar die dissipels gewag het op die uitstorting van die Heilige gees. Daar het ons een keer ń week ssam gekom in gebed, ons ou klein groepie. Ons het daar werklik die Heilige Gees ervaar en Jesus het met ons gepraat deur visioene, woorde van qysheid en diepe deernis met mense om ons. Heilige tye….

Dan sit ons op ń dag in jou kamer en jy vertel my ń verhaal in jou lewe, wat my tref soos ń uitklophou in die maag. My wind is uit my liggaam maar ook uit my seile. Lewensveranderde woorde. Dit was die begin van ń ruwe storm wat sou los bars en soveel lewens sou raak, soveel verhoudings indirek sou kelder. Ook ons vriendskap sou in die storm op die rotse loop.

Ek moes op die einde van die droom noodgedwonge die nag moes beleef, toe jou benoude oproep kom. Jou hulpkreet is gehoor en ons het gehelp. Die volgende dag het ń kakafonie los gebars wat jou weg stap sou begin. Na ń nuwe begin en groot restourasie werk in jou lewe.

In my bewuste tyd na die droom reflekteer ek terug. Ek besef daardie huis is net ń dop sonder sy mense. Daar het groot vreugdes afgespeel, diepe hartseer en mooi gewyde tye, maar jou weg stap was reg en goed. Daar het vrymaking gekom, losknoping uit slawerny van soveel dinge. Dit was ń loutering.

Dankie dat ek en jy weer ons bande kon optel. Dat ons weer deel van mekaar se lewens kon word, in so ń wyer mate. Jou vriendskap maak van my ń ryker persoon.

My hart

Vandag sit ek langs my skoondogter in ń restaurant en die harseer kom sak soos ń wolk oor my en kom maak homself tuis in my hart.

Ek het vir haar gesê praat met my oor Lienke, ek wil met jou woorde vir my n prentjie skep van die mensie wie sy is, want ek ken haar nie.

Ons skype wel gereeld, ek hoor haar en sien haar, maar ek ken haar nie.

Terwyl skoondogter praat ontvou ń binnemens van die buite beeld wat ek ken. Ek stap saam in die skool en in haar buite skool lewe, ek hoor wat lees sy, wat speel sy, wat luister sy. In die vorming van die beeld begin my hart pyn, so ń diep pyn dat die moeg oor my ouma hart kom toe vou en sommer oor my mens, ek weet dat ek hierdie besondere sterk en wyse mensie nooit regtig sal ken nie.

Ek is so trots op haar jonge wysheid. Haar mondjie wat vir mamma sê sy weet nie wat van die kinders gaan word nie want hulle is nie gedissiplineerd in hul werk nie en as mens eendag suksesvol wil wees begin dit deur nou hard te werk. Sy is agt jaar oud.

FB_IMG_1518550709652

Ek weet daar is duisende oumas wat moet saam leef met hierdie gemis. Hierdie wete maak my binnemens ongedurig voel, dat ons pragtige jongmense moes pad vat uit hierdie land en elders gaan nes skop. Familie bande wat gesny word, klein mensies wat nie ń lekker in die arms vang en toevou in ouma arms kan beleef nie. Wat nie n whattsapp kan stuur ” ouma kom haal my vandag by die skool ek wil by jou kuier” nie. Al die trane by die afskeid, wat ouma harte breek. “Dis nie reg nie” gil my hart uit in die hemesfeer.

In Kanada juig ń klein hartjie, oormore kom mamma tuis. Vandag het ń stukkie van hierdie ouma weg gevlieg Kanada toe saam met mamma.