My dag van die tande

Vandag het ek my eerste ondervinding van die oumens/armmens/ geen medies fonds ding gehad. Ek is na Tygerberg hospitaal se tandheelkunde departement. Ek moes net, want ek loop met pyn en kon glad nie een kant kou nie.

Vyfuur op hierdie koue wintersdag vertrek ons by die huis. Julle Tygerberg is een enorme hospitaal, net om agter te kom waar moet jy heen gaan, is alreeds ń misie. Ons is hier om en daar gang af, trappies op en trappies af. Uiteindelik op die regte plek val ek in die ry. Dis stiknag donker daardie tyd van die oggend. Ek is seker so twaalfde in die ry. Ons wag. Ek totaal uit my vaar water en baie onseker. Wonder die hele tyd of ek nou regtig op die regte plek is. Ek stuur manlief huis toe, nodeloos dat hy saam wag.

Ses uur gaan die deure oop, nou tou ons so merkie vir merkie vorentoe. Vul jou besonderhede in ñ boek, dis stap 1.

Kry ń vorm om in te vul. Daar is rye stoele, nou sit jy in die ry, dis stap 2.

Dis ń groot saal wwarin ons is. Daar sit op elke tweede stoel ń persoon, maar die ry stoele agter jou se rugleuning is teen jou stoel. So die koppe is baie naby aan mekaar. So sit sit skuif die ry aan.

Stap 3 is jy word geroep na ń tandarts wat dan ń “screening” (vertaal dalk bestekopname) doen, sy vra vrae en bekyk jou tande. Sy doen dan n voorskrif vir behanddling. Bespreek dit met jou en dan plaas jy jou leêr in blou kassie, dis stap 4.

Nou gaan sit jy weer op die stoele en wag. Jy kan op die stadium enige plek sit so terug op die stoele probeer ek bietjie eenkant sit, maar soos dit wil, kom sit ń mamma met ń so plus minus tweejarige oorkant my. Oulike klein klong, vriendelik, maar hy eindig met tye hier styf langs my op en kleintjies dra nie maskers nie en hulle kan covid oordra. Ek bidde en bidde maar, stap 5.

Iemand kom met ń hopie leêrs en roep name, as jou leêr daar is loop julle klompie nou in ń ry agter haar aan na, in my geval, X strale dis stap 6.

Weereens sit julle in ń ry op knit-one-slip-one stoele en wag tot jy geroep word. Hierdie deel het my Covid angs bietjie in ge skop, want jy moet met jou tande aan so ń pen- ding byt, daar is ń los plastiek dingetjie oor, maar my kop jaag met gedagtes van, het die persoon wat hom oorgesit het handskoene aan gehad, is hy 100% bedek en en en, stoomrol die dinge deur my kop. Ek byt maar, wat kan ek doen en X strale word geneem, hierdie is stap 7.

Stap 8 Nou weer terug na die begin saal, sit en wag. Darem kry ek my sit op ń ry stoele bietjie eenkant. Nou wag ek. Julle moet onthou hierdie is volksvreemd vir my, so ek is heeltyd onseker oor waarheen en wat volgende.

Weereens kom iemand met ń pakkie leêrs en roep name. Nou kyk Raath is altyd moeilik op die tong. Nou hier in ń ander etniese tong, herken ek my van skaars. Nou is ek nog bang ek mis dit as hulle my roep. Soos die keer in Jakarta toe ek amper my vlug gemis het omdat ek nie my van en naam kon herken nie. Ek en die ou waardinnetjie moes ooplê na ń ander trrminaal waar die vliegtuig vir my gewag het. Van daardie dag af vrees ek dat ek die roep gaan mis. Deur die genade herken ek my naam, nou tou ons weer soos skape deur hospitaal gange. Stap 9.

Nou is ons in een enorme saal gevul met hokkies, elke hokkie met ń tandarts stoel en ń tandheelkunde student. Nou is ons midde in stap 10. My dametjie is ń 4de jaar student by die Universiteit van Kaapstad. Sy vra weer ń trop vrae en ondersoek en bekyk van my kakebeen tot my kliere en my tande. Sy maak nou weer haar diagnose nadat sy ook na die X strale gekyk het. Nou moet ons wag vir haar dosent/dokter/ tandarts. Hy luister na haar, kyk weer na my tande en bespreek weer met my wat hulle gaan doen. Nou kom ons by die doen en dit is, hulle moet twee agterste kiestande trek. Nou kom die deel waar jy so bietjie voel soos ń goudvis in ń bak. Hier is vir die studente ń leer proses en jy is die “proefkonyn”. Op die ou end is daar saam met die dosent 4 studente in die klein hokkie en almal wil in jou mond kyk. Ek moet sê dit was ń pynlike proses, soos dit maar is met tande trek. Liewe ouers ek het gevoel ek word uit die stoel opgewen met ń tang om my tand, die dosent was bietjie rof, die studente minder. Ek het toe ook ń abses aan die een tand gehad, geen wonder dit was so pynlik nie. Ek was baie bly toe die proses agter die rug is.

Nou sit ek maar met my watersakkie teen my wang, met panado’s in my lyf en voel so bietjie jammer vir myself. Op terug refleksie – Ek is dankbaar vir fasiliteite waar jy gehelp kan word en ook darem jou klein beskeie aandeel het in ń student se opleiding.