Water

Kanada is vierde op die lys van lande met die meeste vars water in die wereld. Hier is baie mere en groot riviere. Alhoewel Kamloops beskou word as semi woestyn, as gevolg van hulle lae reënval, is hier mere net buite Kamloops en loop die groot Thomson rivier hier deur. So besproeiing is moontlik, tog dink die stads vaders aan die toekoms en volhoubaarheid, so in hoog somer is hier water beperkings. Selfs nou mag hulle net alternatiewe dae nat spuit. Drinkwater is genoeg.

Vir Lienke (8 jr) is Suid Afrika (Wes Kaap) se min water vir haar ń ontstellende ding. So vertel mamma Annemie die een oggend van haar en Lienke se gesprek die vorige aand. Sy het besluit aangesien Suid Afrika so min water het en Kanada oorvloedig, moet hulle vir ons water gee. Daar moet ń pyplyn gebou word, op die vraag waar al die pyp vandaan sal kom, is haar antwoord: “Rich people can donate money to build the pipeline. Weet jy hoe baie pyp dit sal wees, waar sal hulle dit bêre? People can offer there land to store it. Wie sal dit bou? Engineers can offer to do it for free. Dis baie ver Suid Afrika toe. No problem, there will be enough donations”

So maklik, saak afgehandel en ons water probleem iets van die verlede. Hoe kan ons so dom wees.

Sommer net ń bietjie statistiek tussen die twee lande.

Dit is net so fantasties hoe so ou klein mensie planne uit dink vir ons daar ver. Hoe afstand geen kwessie is nie. Net daardie kinnerlike geloof dat enige iets moontlik is, want mense sal hande en harte oopmaak en gee, dit is mos logies.

As dit maar net so was my poplap, maar inherent is die mens ń selfsugtige wese en mammon so ń groot afgod in so baie se lewens. So jammer jy sal nog ontnugter word. Wens ek kon haar toe maak in ń kokon en beskerm teen die lewe.

 

Die dag van die berg

  1. 20180608_184835

Ek het vandat ek hier gekom het na die padjie teen die berg op gekyk en besluit, jou gaan ek stap.

Hier is ń Husky genaamd Zola deel van die huishouding. My seun praat my vreeslik bang, dat ek nie alleen met haar kan stap nie en bla, bla, bla…. So neem ek vir Zola vir kort toets stappe en dit gaan baie goed, wê wil ek vir hom sê.

Verlede week besluit ek, vandag is die dag dat ek en Zola vir die eerste keer alleen die berg gaan aandurf. Van onder af lyk dit glad nie so steil en so hoog nie. Al huffende en puffende pak ons die hoogtes aan. Daar is geweldig los klippe, so jy moet versigtig trap anders gly jy af. Die uitsig was asemrowend mooi.

 

Gelukkig het ek water saam geneem want dit was warm en daar is geen bome nie. (Karoo). Dit was ń heerlike uitdagende stap en Zola het stroop soet gestap.

Nou ja, die af kom slag was ń ander storie, sien, die los klippe😱. Ons is so skuifel skuifel na benede, hier en daar gly gly en daar is mos nou nie ń boom om aan te gryp nie.

So 300m van onder af, gebeur dit toe. My voet gly, ek kry effe momentum en Zola besluit, Yeah ons gaan draf. Dis toe dat ek neer ploeg na benede. My skouer tref eerste die grond en my wind is skoon uit. Ek bly lê net so lê in die stof, baie stadig kom ek in sittende posisie. Dit voel darem nie of iets gebreek is nie. My knieë is ene bloed, my skouer se bloed drup op die grond.

Ek is op my voete en hinkende, skuifelend gaan ons na benede. Dis nou wat ek weet, die psalmis skryf waar. Vandag is my hulp van die Here alleen. Dis nog so 1km van die berg af huis toe. Ek is van my kroontjie tot my toontjie met stof bedek.

By die huis met die inloop slag is my woorde – “julle mag vandag net nie lag nie”.

Nou besit ek ń stukkie berg, met my bloed gekoop.

Die plek waar die riviere ontmoet.

 

Tk’mloops is die woord, nou verander na Kamloops. Hier is nog groot reservate wat aan die First nations behoort. Dis nou wat die indiane van ouds nou genoem word.

Interessant is dat die kinders eers op Ille-a-la-crosse gebly het, wat ook ń dorp is waar die rivier ontmoet.

Screenshot_2018-06-04-13-58-56

Screenshot_2018-06-04-13-57-40

Hierdie is bekend as die woestyn. Lyk soos ons Karoo met berge, maar hier loop ń reuse rivier deur. Eintlik twee riviere wat hier een word. Die North Thomson en South Thomson word hier die Thomson river. Hierdie riviere kom in lente tyd af, waneer die sneeu smelt dan kyk almal met groot oë hoe hoog die water gaan kom. Hierdie jaar was die voetpaadjie by river side park plek plek onder water.

Dis ń baie mooi plek met ń baie goeie infrastruktuur. Baie sonskyn dae in die somer, aangesien dit baie min reën. Hier is hordes buitemuurse aktiwiteite. Omdat dit so veilig is, kan jy heerlik op die talle trails gaan stap of draf.

Ek deel ń paar foto’s met julle, almal geneem vd een of ander trail af.

 

 

 

Rowwe naweek…

Rowwe week vir ń klein agt jarige dogtertjie. Dit was die jaarlikse dans konserte. Altesaam 5 van hulle, ingeprop oor die naweek. Gelukkig was ons meisie net in twee van hulle. Elke vertoning was verskillend.

Die week voor die tyd was dit kleedrepetisies en oorsig klasse, wat al klaar rof was. Elke keer moes die hare reg wees, kliphard gespuit. Elke keer moes hare gewas word.

Die kostuums word ontwerp en gemaak, vir haar 3 kostuums was dit oor die $300. Hulle speel groot. Hierdie ouma se oë rek net, want na die tyd hang hierdie flambojante kostuums in die kas.

Sy doen ballet, funky jazz en acro. So sy was in Vrydagaand en Sondagaand se vertonings. Die kaartjies na die 2 vertonings was vir die 3 van ons $90.

Die vertonings was so gemiddeld van 45 items per vertoning en het bestaan uit- ballet, hip hop, funky jazz, jazz, acro, musical theater, contempotary, pointe, lyrical en lyrical medley.

Tussen die dans vertonings deur het ons pop nog Sondagoggend ń 5km trail run in Kalowna gehad wat so twee ure se ry van hier af is. Sy het 10.15 weg gespring. Onse Lienke was die derde vrou wat klaar gemaak het. Nr 1 en 2 was volwasse vroue. So dis groot, haar eerste podium met ń groot ren. Sy het haar tyd met 6minute verbeter. Hierdie ouma het gebars van trots en dankbaarheid dat ek deel kan wees van hierdie oomblik in haar lewe.

 

Sy was fenominaal, soveel determinasie. Sy is ń klein vegtertjie, daai kleine skrale lyfie huisves baie vasberadenheid.

Gelukkig het sy ń pappa wat ń hardloper is en haar fenominaal afrig. Hy gee haar baie pointers en sy luister.

Wat ń voorreg is dit nie om ń ouma te kan wees nie, om hier in die ver land te “cuddle” met hierdie besondere klein mensie. Ek staan dankbaar teenoor Vader vir Sy genade.