Baviaans camino

Eintlik moet ek eers by pre-baviaans begin. Hierdie wonderlike geleentheid om te kon gaan het na my kant toe gekom deur ń mede towerin.

Ek het gelees dat Toortsie praat dat hulle die camino gaan stap, ek wou graag meer te wete kom en het uitgevra. Sy het sommer al die info aangestuur. Daar was nog 1 plek oop, ongelukkig het ek nie die finansies om so iets te kan doen nie.

So 10 dae voor die aanvang van die stap bel Toortsie, haar skoonseun kan nie meer gaan nie. Sal ek kan saamgaan, daar is egter iemand anders wat hulle reeds gevra het, so ek is tweede op die lys. Ek was baie rustig hieroor en het dit na Vader geneem. Ek het geweet as ek moet gaan, sal Vader dit laat gebeur. Die Saterdagoggend het my sel gelui, “Trommeltjie pak jou koffertjie, jy gaan saam” Ek was oorstelp, dit het totaal onwerklik gevoel. Ek was so dankbaar. Hierdie was ń geskenk uit Vader se hand, ek kon selfs saam met hulle ry, kosteloos.

My rit het die Sondagoggend begin tot in Napier, waar ek by my hartsvriendin gekuier het. Dit was vir haar so lekker dat ek gekom het, sien sy bou huis. Hoe sê jy as dit ń houthuis is? Sy laat een oprig? Ek was die eerste van haar vriendinne wat kom loer het. Ons kon drome droom om die half voltooide huis, ons het tuin gemaak in ons drome, meubels ingesit en gordyne gehang.

Daarna is ek tot in Bredasdorp, waar my motertjie agter gebly het, volgende been na Riversdal saam met die Burger clan. Eerste keer dat ek en Toortsie mekaar van aangesig tot aangesig sien. Sy is nogal wat ek verwag het.

Maandag het ons pad gevat na Kareedouw waar ons die shuttle gekry het na Willowmore. Daar het die hele span bymekaar gekom vir aand ete en oorslaap. Die volgende oggend het ons so 10km voor Steytlerville weg gedraai na Nakop. Die groot stap het daar begin, ons het ook die 3 perderuiters daar gekry.

Voor ons het die berg uitgetroon, een van vele. Daardie eerste berg het my behoorlik laat les opsê, “It cut me back to size and more and more” Jammer ek gebruik engels, maar kan dit nie mooi in afrikaans verwoord nie. Ek het voor die tyd gebid en vir die Here gevra om werklik in te spreek in my lewe. My lyf wou hierdie keer net nie behoorlik saam werk nie. Ek was verbysterd oor my onvermoë. Een ding weet ek, ek moes nederigheid leer. Ek het “humble pie” ge eet. Vir die eerste keer in my lewe was ek die agter os. Op vorige staproetes was ek altyd die voor bok en nogal half ongeduldig met die stadiges. Nou moes ek ander se hulp en aanmoediging ontvang.

Die Here is my herder, hy lei my na groen weivelde, na waters waar rus is lei Hy my heen. Dit het in my kop gemaal.

Dag twee het aangebreek met, ek het deur die nag gehoes en my bors het gefluit, nie ń goeie begin vir dag 2 nie. Skaars het ons die eerste hoogte bestyg of my bors trek toe. Nog ń eerste vir my, ek het so gesukkel om asem te kry. Lozanne was so fenominaal, het my letterlik teen die berg op gepraat, treetjie vir treetjie. Dit was een groot marteling. Ek het Habakuk se lied verander en in my stryd dit die heel tyd in my kop gesing.

Al sou my bors helemal toe trek,

My asem hortend op raak,

Al sou my bene in jellie verander,

En my liggaam skree van pyn,

Nogtans sal ek in die Here jubel,

Sal ek juig in God my redder,…

Hulle het vir my kortisoon pille in gejaag en eventueel het my asem makliker gekom. Met die aanvang van die laaste been van die dag het ek soveel beter gevoel. Ek het lekker gestap en sommer lig gevoel.

Ons loop by die afdraende ń donkie raak, hy kom net skielik uit die veld aangedraf. Ek is so mal oor donkies. Ons neem foto’s en lag te lekker. Martjie en de Wet is agter my, ek hoor hul lag by die donkie, ek draai om en kaplaks, daar lê ek. Onmiddelik weet ek, hierdie enkel is geswik.

Vroeër het ek vir Heilige Gees gesê, Hy weet ek gaan nie handdoek ingooi nie, al is my bors hoe toe. Eric het gesê, hy dink as gevolg van my bors, ek moet ophou stap. Ek sou dit nie kon doen nie, al manier wat ek sal ophou stap is as ek so seerkry dat ek nood gedwonge moet op hou. Passop wat jy bid of sê.

Pynlik het ek gewobbel op my en de Wet se stapstokke, maar kon nie te ver vorder nie, toe moes de Wet hulp gaan roep. Mnr donkie het so ewe by ons gebly en op ń stadium sy kop so ewe op my kop kom neer sit.

Daar het my Camino ge eindig. My hart was seer. My vriendin sê ń troos waarheid. “Jy het die deel van die pad gestap wat die Here wou he jy moet stap”.