2019

2019 is my sestig word jaar, sommer vroeg vroeg in die nuwe jaar. Dit het my gedagtes die afgelope tyd baie besig gehou. Ek het gedwaal in die verlede en ander verjaardae.

Partytjie hou was nooit deel van my lewe nie, hoekom? Ek weet nie, dit het net so gebeur. Miskien kan ek die tyd van die jaar die skuld gee. Na al die krrsvieringe en oujaar/nuwejaar vieringe is almal tot satwordens toe siek vir fees, eet en vier. Skooltyd was my maats dan met vakansie weg en sou ń viering op ń flop uitloop. Soos my sestiende verjaardag toe net een vriendin opgedaag het.

Ek het wel ń paar lekker verjaardae gehad soos, die jaar na ons Desembermaand die eerste keer my seun wat aangeneem is in ons familiekring kon verwelkom, ons het daardie jaar almal saam in Kirstenboch piekniek gaan hou. My geliefde boeta en gesin was saam. Die jaar toe ek besef volmaan is op my verjaardag en besluit het piekniek teen Leeukop is net die ding. Ons het koelhouers met vingerhappies op gepieker, die son sien sak en die maan sien opkom, so al in die maanlig is ons weer na benede.

Een van my mooiste verjaardae was toe ons hartsvriende van Heidelberg, Gauteng in die Kaap was en my bederf het, ons het ń piekniek gaan hou by Zevenwacht, lekker piekniekmandjie wat hulle bestel het. Later het ons gaan fliek, kan nie onthou wat ons gaan kyk het nie.

Die laaste twee jare het ons gaan piekniek hou by Klein Joostenberg met van ons beste vriende, kinders en kleinkinders. Ek reël altyd my eie verjaardag anders gebeur niks. My veertigste het ek, my man en dogter piekniek gehou in Kirstenboch.

Een jaar het ek my verjaardag geskuif met twee weke en ń teepartytjie gehou, dit was heel lekker, maar koeke en terte bak is nou nie helemal ek nie. Vir ń ander se verjaardag sal ek nog en het moeite gedoen met my kinders se verjaardae, maar vir myself? Nee dankie.

Almal vra nou al vir weke wat ek gaan doen om hierdie sestigste verjaardag te vier, wel….

Kom ons kyk na die meer realiteits weergawe, Iewers sal ek ń strandhuis huur, by die see, met ń lagoon daarby. Saam met my sal ek daar wil hê, my vriendinne. Ongelukkig my een hartsvriendin kan nie meer reis nie, haar gesondheid nie goed nie. Miskien kon Scrappy se Elon Musk tuig gehelp het om Sarie hier by my te kon hê. My maatjie van baie jare Una sal moet vlieg, sommer saam met sus Elize. Hulle is die drie wat ver bly wat ek hier sou wou he.

My naby-bly vriendinne is my sendeling vriendin Lise-Marie, my kuns vriendin Hettie, my boutique vriendin ( wat my buurvrou was in my winkeldae) Seline, my Singapore-afrikaanse vriendin ( Ek noem haar so, want ons het mekaar op Singapore lughawe ontmoet, maar sy bly in Durbanville en is nou my haarkapster), my jong vriendin Stephne (sy is soos my ander kind), my ” die knap vrou waarvan die bybel praat”, Louise en sy is die tannie van my Elsa vriendin wat so oud is soos my seun, ons het mekaar leer ken in ń christelike dansgroep en is al 2001 af vriende, my dierbare Riana vriendin, ons was saam in die kerk in Heidelberg, nou bly hulle in die Strand, my ou buurvrou van Wellington en ons beste vriende, Isabel. Natuurlik bo aan die lys my dogter Jana.

As ons nou die dam onder die eend wou uitruk en ver gaan draai sal ek nog ń paar mense wou oplaai – vriende en familie oorsee. Ek sal moet Kanada (Kamloops en Dawson Creek), Amerika (Houston), Nieu Zeeland en Engeland toe moes vlieg.

Helaas drome is drome en my planne bly skeef loop. Ek wou graag ń studio bespreek en gaan keramiek items verf saam met my vriendinne, maar kry nie die studio in die hande nie, my Jana kind is in Pearly beach, my Seline vriendin in Bangkok en my ver vriendinne  is net dit ver.

So met min dae oor, lyk dit my ek moet hierdie verjaardag op ys sit. Ek sal in my drome en gedagtes my omring met my hartsmense.

Paul en Peter

Op 2 Augustus 2018 hop Paul en Peter ons lewe binne. Dit was ń baie onverwagse geskenk op my man se verjaardag.

So ń maand voor hierdie dag, kuier my kleindogtertjies by ons, ek besluit ons moet vir ń stappie gaan na hier bo in ons woonbuurt, daar is altyd hasies wat rond hop in daatdie area. In ons afwesigheid besluit oupa en mamma om die web te betree en te kyk waar mens hasies kan kry. Baie entosiasties sit die twee op die net.

Eindresultaat was dat ons dogter besluit het dit sal manlief se verjaardag geskenk word.

20181108_081133
Hulle is twee Nederlandse dwerg hasies. Twee mannetjies, hulle was 5 weke oud toe hulle ons lewe binne gehop het. Die name? Peter was maklik, Peter rabbit et kort tevore gedraai en ek en Lisa het dit gaan kyk. By Kamloops (Kanada) is daar twee berge Peter en Paul. Dit is toe wasr Paul se naam vanaf kom.
20180808_140155
Ons het ontdek dat mens het nie sommer net ń rond hoppende hasie nie, daar is veel meer daaraan toe.
20180831_170900
Eerstens moet hulle ń veilige blyplek kry. Ons dogter vra op die Bunny huggers facebook blad of daar dalk ń hok beskikbaar is. Tot ons verbasing kry ons een pasella. Ons moes hom skoonmaak en ń paar reperasies en veranderings aanbring, maar nou het hulle ń huisie. Ons het wiele gemonteer sodat ons die hok in die aande in die huis in kan stoot, die nagte was toe nog koud.
Hierdie was ń leerskool vir ons, maar ek moet toe gee, hulle verskaf ons ure se pret, ons lag baie vir hulle manewales.
20180924_112610
Deesdae eet ons ontbyt buite, dan kan die twee die tuin verken. Tussen 16.00 en 18.00 probeer ons tuis wees, dan is dit weer hop tyd.
Intussen het die hormone ingeskop, op ń stadium het ons gewonder of Paul mie dalk Pauline is nie en is na die teler om seker te maak.
Blykbaar is die hasies maar so bespringerig met mekaar as dit hormoontyd is. Ons moes hulle laat regmaak, aangesien dit nogal tot gevegte lei. Peter is deur die proses, maar Paul se testes het nog nie ingesak nie, so hy is nog ń hormonale meneertjie. Peter kan hom so vervies vir hom, dan kan hulle mekaar omtrent toe takel dat jy net wit wolle sien waai.


Ons twee kleindogters is natuurlik mal oor die twee, eerste ding as hulle hier kom, moet hulle eers na Paul en Peter gaan.
20180824_161724
Ja, my plante lei daaronder, genadiglik is hulle klein en hulle knibbels laat nie te groot skade nie. Manlief sê hulle is eintlik Ro en Lux, hulle wei so lekker op die grasperk.
20181022_091338
Glo dit of nie, ons is besig om vir hulle ń playpen te bou. Aangesien hulle so klein is, is ons baie bang die katte vang hulle. Nou het ons kat vyande geword hier by ons huis. Ons het ń goeie watergeweer gaan koop en is op gereedheid vir enige kat wat sy gesig hier wys.
20180807_183058
Ons het hulle in die huis toe gelaat, maar die rakkers hou van drade kou en het nou die dag die radio se draad gekou dat ek Paul kry met ń vonk spattend draad op die mat. Brandgevaar!!!!!!
Helaas ons is nou Hasie-mense. Wie sou kon dink?

Ons moterfiets eskapade

Elke keer as ek Indo toe gegaan het om aankope te doen het ek so twee dae ingewerk wat ek me time het. Ek wil darem nie net werk nie en ook deel van die land beleef.
As iemand saam met my reis probeer ek gewoonlik om iets te doen waarvan die spesifieke persoon hou.
Met skoonsus Lize se saam gaan, moes ons iets doen wat in haar aardrykskunde-juffrou kraal sal pas. So in Bali is ons na Kintamani, dis waar die vulkaan is. Sy het dit behoorlik geniet. Ons het hom beskou uit ń restaurant waar hulle ń rijstafel bedien. Dit is allerlei inheemse kosse. Soos ń Balinese buffet.

In Java het ek besluit, gaan ons ompad ry na Yogjakarta toe en by Wonosobo verby ry na Dieng plataue. My Java boek het die mooiste foto’s gehad en die beskrywing was asemrowend.

Screenshot_2018-11-29-15-48-00 gekry by oom Google

Ek gebruik gewoonlik dieselfde taxi drywer, ń baie oulike jongman met die naam Toliep. Hy verstaan feitlik geen engels nie, so Sulis vertaal maar.

Die rit daarheen was pragtig, welliswaar lank. By ons aankoms by die brug alvorens jy Dieng se parkering kan kry, moet ons ontdek die brug is vir verkeer gesluit asngesien hulle besig is met reperasies. Nou sit ons met ń dilemma, ons het nou al die pad gery, om nou om te draai is nie reg nie. Alternatiewelik – jy huur ń moterfiets met sy drywer en ry oor die nou konstruksiebruggie en dan berge in.
Screenshot_2018-11-29-15-49-46 gekry by oom Google

Ek wou my vrek lag vir Lize en Sulis, hul broeke het omtrent gebewe om so met ń vreemde man, op vreemde paaie die berge ingery. Hulle wou eers stry, maar ek het voet neer gesit en ons het geklim. Ek en my drywer het die agterhoede gevorm en ek het die petalje op video kamera vas gelê, so in die ry. Ongelukkig kan ek nou geen video materiaal opspoor nie.😱😱😨

Eers het ons na die tempels gaan kyk, Met die dat dit toe begin drup het ons geweet ons moet nou plan maak. Ons het by so ń klein winkeltjie plastiek reën poncho’s gekoop.

Ons is daarna berge in, dit was omtrent steiltes af en op, krinkels en draaie, alles grondpaaie.

Uieindelik kom ons by die warmwaterbron, maar moes nog ñ stywe entjie stap. Aangekom vind ons ń klomp locals wat letterlik bad in die warm water. Dit is glad nou nie eintlik besoekwaardig nie. Dis ook al wat ons kon besoek en moes na dit omdraai. Ongelukkig kon ons toe geen van die uitkyk plekke besoek nie, aangesien die mis inbeweeg het en sig swak was.

Mensig toe kom die reën neer. As ons teen die steiltes op smaak dit jou jy gly agter af. Nat plastiek en motetfiets sitplek is ń gladde storie. Teen die steiltes af voel dit weer jy gaan die mannetjie voor jou af druk. Lize het na die tyd bely sy het as gevolg van spanning toonlere op die mannejie se maag geoefen. Wat hy hiervan gedink het sal ons nie weet nie. Sulis sê sy het gedink sy druk die mannetjie se middelrif af.Ek het hierdie rit heerlik avontuurlik gevind en baie gegiggel.

Helaas terug by die taxi was ons drupnat hoenders, die poncho’s het nou nie eintli veel gehelp nie. Toliep wat heerlik droog in die taxi gewag het wou hom ń papie lag vir ons. Ons moes maar so druipnat in die taxi klim. Kort kort kyk Toliep in die tru spieëltjie om weer uit te bars van die lag met vele handgebare ten koste van ons.

Oppad na Wonosobo vra Sulis of ons aseeblief by hasr familie kan stop. So het die druipnat hoenders hulle huis betree. Die tante het net een kyk gegee en gaan sweet tea maak. Sy het koppies vol aangedra. Omdat dit net na Eidel Fetrie was, is die hordes glashouers vol eetgoed uitgehaal en ons moes net eet en sweet tea drink.
Nou ja evensueel is ons weer oppad. Nogsteeds nat en koud, nou was die pad baie lank tot in Yogyakarta. Nogsteeds in gietende reën.

Hierdie is een van my gunsteling herinneringe aan my Bali Jati seisoen.