Kerstyd op Rebus

Ek het die geroep gehoor, hier in my binnemens, het die geroep gekom. Ek het geweet dis tyd, ek gooi vinnig goedjies in my tas. My pragtige BOHO rok, veelkleurig en vrolik, sag soos ‘n wolkie om my. Terwyl ek so pak, gaan sit ek ‘n oomblik en tob oor hierdie jaar…

Dit was werklik ‘n mallemeule jaar, dan bo, dan onder, dronk gedraai en deurmekaar, dan dansend vol vreugde, dan trane wat vloei uit ‘n vol spanningsrivier. Dit was uitdagend. 1 Julie begin ons droom realiteit word toe die enorme vragmotor hier stop met die boude en blaaie van ons huis. Ons jubel, uiteindelik gaan dit gebeur, elf maande na ons uit ons huis getrek het. Ons sien die lig aan die einde van die swerf tonnel. 29 September trek ons in, ons is vol vreugde. Harde werk en harde werk het nou voor gelê, maar ook die heerlike lekkerte van op ons stoep sit en te kan ver kyk. Ek is so dankbaar teenoor Vader vir hierdie groot genade.

Fokus Trommeltjie, fokus. Ons moet ietsie saam neem vir die ete en die drinke. Ook musiek en sommer ander lekkertes. My eerste gedagte is my vrugtestafies, lekker sondig ryk en soet. Kyk ek is nou nie ‘n bakster nie, so ek maak nie vrugtekoek nie, maar ons het ‘n swakte vir die vrugtestafies, hulle is super maklik en vinnig om te maak. Sommer ‘n groot blik vol. Vir ń bietjie balans vye, heerlike lekker vye, eie aan Napier. Dis mos ons groot Desember lekkerte hier. Sommer twee kaste vol. Heerlike gemmerbier, sommer paar kanne vol en natuurlik wyn. Wyn eie aan hierdie kontrei, Bruce Jack en Skipskop. Musiek, my gunsteling kerslied is, O holy night en Mary did you know. Ek sorg dat hulle gelaai is op my foon se geheue bank. Wat nog? Blomme, bosse vol proteas en fynbos eie aan ons kontrei met baie lint.

Ek spring in my karretjie en woerts deur na Rebus, gelukkig met ons spesiale reis apparaat is dit blitsig. Die volgende oomblik staan ek op die plein. Alles lyk asemrowend mooi, oral is liggies en kleur. Die mooiste van alles is die klanke van al die geliefde stemme wat opklink rondom die tafel. Daar is die heerlikste lekkernye, te kies en te keur. Al die dames lyk so mooi en straal behoorlik, wat ‘n groot voorreg om deel te wees van hierdie besonderse groep vroue. Ons “go to place en ons go to people”. Ek kan nie help om breed te glimlag nie, tot ou Blommetjie pronk met ‘n groot rooi strik om die nek. Sy het sommer so ‘n spesiale pronkerige stappie. Ek glimlang diep gelukkig, want ek is by die huis.

My wens vir elkeen van julle is vrede en vreugde soos ‘n kleed om julle, ‘n regte “technicoulor dreamcoat” , mag julle daar in julle sterkte vind. Die Woord se mos hoeka, “Die vreugde van die Here is julle krag”. Midde in die chaos van die wereld en die lewe om ons, om net diep te teug aan daardie vreugde. Habbakuk se ou versie en die ou liedjie is vir my so spesiaal, in my moeilikste tye sing of praat ek dit, sommer my eie woorde ingeweef, want ek weet Vader is ‘n waarmaker van Sy woord. Hier kom ek nou weer by die vye uit, want al sou die vyeboom nie bot nie en geen druiwe aan die wingerdstok wees nie, al sou die olyfoes misluk, al sou ek sommer net op die klippe op my pad wil bly sit, sal ek opstaan want die Here my God gee my krag, Hy maak my voete soos die van die ribbok, vas geanker op hom, met my spesiale God ontwerpte voete wat kan vas staan op die rotse, sodat die wildehonde en die ander wilde diere nie by my kan kom nie, ek sal hul water bekke sien en hulle getjank hoor, maar die Here my God sal my op hoë plekke veilig laat loop. Amen en sela.