Ek het vandat ek kan onthou ń oupa gehad wat baie ver van ons af gebly het. Ons het in Johannesburg gebly en my oupa in die bosveld by Groot Marico.

Julle moet onthou toe ek klein was het die wereld anders gelyk as vandag. Ons het nie telivisie gehad nie, ook nie selfone en rekenaars nie. So ons kontak met oupa was twee keer ñ jaar, April en Oktober vakansie. Ons het ook nie ń kar gehad nie. Ek weet julle kan nie glo dat ñ mens nie ñ kar gehad het nie. Vir my was dit nie snaaks nie, dit was hoe dit was. Wag, ek wil nie nie daaroor skryf nie, ek wil julle vertel van ons kuiers by oupa.

Daardie jare was daar ń spoorwegweg bus, so ń rooie. Hy het van stasie tot stasie gery en mense op en af gelaai. Ek en my mamma het met so ń rooi bus na my oupa gery. Iemand sou ons by Johannesburg stasie aflaai, met al ons bagasie. Weet julle wat bagasie is? Dit is nou jou tasse en, in ons geval, blikke vol koekies en beskuit vir oupa. O ja, daar was ook padkos, want so ń bus kon lank vat om by Groot Marco uit te kom. Padkos is altyd ń heerlikheid, lekker klein frikadelle, gekookte eiers, broodjies, klein stukkies gaar wors en klein suur uitjies.

Op Groot Marico aangekom, moes ons na die winkel stap. Die winkel het aan “Kat” en haar familie behoort. Hulle was Indiërs wat so ń algemene handelaar, regte plaaswinkel, op die klein dorpie gehad. Daar was nie taksies nie, so een van hulle het ons plaas toe geneem.

Oupa het in ń ou klein platdak huisie gewoon, daar was geen elekrisiteit nie, geen krane, geen binneshuise toilet of badkamer nie. Daar was wel ń put toilet buite en ons het in ń skottel gewas. Water is met emmers aan gedra huis toe.

Daar was twee vertrekke, een oupa se kamer en die ander een, die res van die huis. Oupa was ń wonderlike man, hy was lank en oud, hy het singerig gepraat. Hy kon die mooiste gedigte voordra, wat hy self geskryf het. Heerlike storis vertel, nie juis kinderstories nie, maar vir my baie mooi. My oupa het net 10 maande skool gegaan, toe breek die oorlog uit.

My lekkerste vermaak was om met stokkies as bootjies hulle te laat resies jaag in die watervoor. Oral oor die voor was sulke hout bruggies waar jy dan weer jou stokkie-bootjies kon uithaal. Dit was hoe vars water by die plase uit gekom het, met die water voor of ook genoem leivoor.. Dit was waar ons moes gaan water haal vir die huis. Daar was ook ń rivier nie te ver van oupa se huis af nie, ek mag net nooit alleen daarheen gegaan het nie. Ons het heerlik pret daar gehad. Geswem, op die klippe gegly en as my groot boetie saam gegaan het, met ń kanoe op die rivier geroei. Later jare toe ek groter was en ek ń maat saam geneem het, sou ons rivier af geloop het en daar op die klipbanke gaan lê het in die son soos klip dassies gebak het en as ons te warm was en dan in die koel water gespring het om af te koel.

Ek moes gaan melk haal op die buurplaas, gelukkig was hul huis nie te ver van oupa se huis af nie. My groot probleem was dat hulle ganse gehad het en hulle het jou gejaag sodra hul jou gewaar. Hulle kon so ń woeste blaas geluid maak en dan moes jy hol dat jy klein word, hulle snawels kon vrek seer byt. Ek is nou nog vrek bang vir ganse, as hulle so blaas wil ek horrie piep kry. Ek moes menige dag soos die wind hol en dit nog met ń houer melk. Dan om alles te kroon moes ek deur die draad klim, ń doringdraad. Ek dink ek was al soos ń wafferse sirkus arties met my manouvers deur daardie draad.

My lekkerste lekker was om op my rug onder ń boom te lê en na al die bosveld voëls se geroep te luister, na die wolke te kyk en allerhande prentjies te sien vorm en hervorm voor my oë. Vandag nog onthou ek daardie bosveld reuk.

Nog ń lekker onthou was my wakker word soggens, my ma sou al vuur gemaak het en die koffie kan sou eenkant staan. Die reuk van vuur en koffie was my eerste gewaarwording as ek ontwaak, dan sal my mamma vir my ń beker koffie met kondensmelk in bring. Nou nog sal ek soms kondensmelk in my koffie gooi, my oë toemaak en terug gevoer word na daardie oggende.

Ek en my mamma het soms na die familie gestap wat in ń kloof ver van oupa af gebly het. Ons sou ons stap onderbreek om by die klipplaat in die rivier te speel. Jy kon ver op jou boude by die klippe afgly. Dit was vet pret. Die mense het met nartjies geboer, dit was so lekker as ons daar gekuier het as die nartjies ryp was, dan sou die oom ons boord toe stuur met ń ” Eet net soveel as julle kan”. Sjoe en het ons ge eet, tot ons regtig nie meer kon nie. Die nartjies was so lekker soet-suur, met baie sap.

Hierdie kuiers by my oupa is my mooiste kind wees herinneringe.

10 thoughts on “My kuiers by oupa

      1. Ek is weg uit Holland toe ek ses was. Beide oupas en oumas het nog geleef. Een ouma es oorlede voor ons weg is en ander een kort na ons weg is. My oupa van vaders kant het wel by ons vir n tydjie kom kuier. Hy het altyd mooi stories vertel, sommer so uit die vuis uit. Hy was egter ‘n regte korrelkop en het maar vasgesit met my pa wat self ook maar n moeilike man was.

        Liked by 1 person

  1. Ek onthou die kuiers by my oupa en ouma in Namakwaland. Baie ver van ons af. ‘n Heeltemal anders leefstyl as waaraan ek as kind gewoond was. Ek het ‘n blog geskryf oor my ouma – en haar leefstyl wat verby is.

    Like

    1. Hulle wereld was ver verwyderd van ons s’n, dieselfde met my. Tog as ek terug reflekteer was dit van my kosbaarste tye. Dis waar ek my liefde vir die natuur gekry het. My oupa was nooit ń tiperende kinder oupa nie, kan nie een dag onthou dat hy my op sy skoot getel het nie. Vir my was hy hierdie wonderlike reus met soveel diepte. Ek het aan sy lippe gehang.

      Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s