Stil stil het ek my intrek geneem in my ontvlugtings huisie in Towerinstraat nr 12. Ek het my verfkwaste uitgehaal en my voordeur ń lieflike teal geverf, ek het my Yogyakarta pot by my voordeur gesit. My puppet hoender loer van agter die pilaar uit om almal welkom te heet. Natuurlik sal my huisie nie ń tuiste kan wees sonder my windklokke nie, dit maak vir my wind musiek.

Karolus, my lief staffie het saam gekom, maar hy weet nie honde hou nie van katte nie. So almal se katte is veilig by hom. Hy het ook mooi by ons vriende se huis geleer dat parkiete is ook soos katte, ons jaag hulle nie, ons is almal een groot gelukkige familie. As ons egter in die straat stap sal julle hom hoor skree (nie blaf nie. Nie tjank nie), dis maar net agv trauma toe hy aangeval is deur honde. Ek dink egter net soos ek het hy Rebusfontein nodig.

Agter in my erfie is ń visdam, wat ook dien as waterdrink plek vir honde en katte, dit is ook ń voëltjiebad en daar woon paddas. Nie die woeste kwakers van die noorde nie, nee ons klein rietpaddatjies, ingevoer van die Kaap af. Hulle maak elke aand vir ons, saam met die windklokke die mooiste musiek. Jy sal my gereeld in die tuin kry vroetel. My groente tuin spesialiseer in spinasie.

By my huisie is daar altyd koffie en wyn, julle kan enige tyd kom inloer. Ons sal langbeen in die son sit en diep gesels, of sommer net wees. Ek bely, ek is nie ń kok nie, so anders as by Toortsie, sal kos skaars wees. Daar sal altyd kaas in die yskas wees. Ek is mal oor spinasie, so julle sal nogal gereeld spinasie quiche by my kan eet, my stapelvoedsel. Toortsie jy sal trots wees op my, dis eg banting.

Ek hou van musiek, binne in my huisie sal jy altyd musiek hoor. Ongelukkig toe sangstemme uitgedeel is, het ek heel agter in die ry gestaan, so sal jy soms hoor dat ek saam met die musiek sing en dans, maar wees gewaarsku, dis nie vir sensitiewe ore nie.

Hester ek hoop nie jy sal omgee as ek soms met ń boek, of sommer net ek, op jou flot kom dryf nie. Water stem my rustig en as jy ń stapmaatjie nodig het, is ek altyd beskikbaar.

My Bali cum Una eend en my batikpot staan by die voorportaal, hulle sal julle welkom heet. In die winter sal my knetterende kaggelvuur vir julle ń vlammedans doen terwyl ons behaaglik teug aan ń glasie rooi wyn en knus onder ń ouma-blokkie-hekelkombers sit. Oral sal kerse brand, baie kerse. Hier by my rerige huis hou my man glad nie van kerse nie. (Dis kwansuis ń brandgevaar).

Dis my huisie en dit is ek.

20 thoughts on “Rebusfontein nr 12

  1. Uit eindelik Trommeltjie, ek het so uitgesien dat jy kom! Welkom welkom. Jy beskryf alles so mooi. Ek hou ook baie van kaas, musiek, stap en langbeen sonsit. Ek is nie noodwendig goed met kos nie, maar kan altyd n eetdingetjiee oorstuur as nodig hoor?

    Like

  2. Hier is jy nou. Welkom en welkom aan Karolus ook. Julle kan maar enige dag daar op my vlot op die kussings gaan uitpak. Ons is nou amper genoeg lede vir ‘n weeklikse Parkrun. Wel, ek weet darem van drie – ek en jy en Toortsie.

    Like

  3. Baie welkom rommeltjie. Sommer bly Karolus is n gawe hondekind. Hy en Trompie sal beslis ook lekker langbeen uitgestrek in die sonnetjie kan le. Ek is ook mal oor windklokke. Het altyd bamboes een gehad wat diep rustige klanke gegee het. Jy gaan beslis alles hier geniet.

    Like

  4. Ek is so bly jy is ook hier…die kaas en wyn en langbeen sit klink vir my na net dit wat ek vandag nodig het!!! Hou so baie van jou voordeur se kleur!

    Like

  5. Dis baie gevaarlik om ‘n visdammetjie of voëlbad in jou tuin te hê… vra vir Scrapy en Una. Maar baie welkom. Dis koud en daardie kaggelvuur klink na net die ding. Wag ek trek gou ‘n trui aam dan kom ek.

    Like

Lewer kommentaar