So het my 7 weke Kanada reis (kuier) gekom en gegaan. Kon nie glo dat die weke so verby gesnel het nie.
Die laaste week was my hart totaal in twee geskeur. Ek het my mense hier in Suid-Afrika so gemis, veral my twee kleindogters, terselfdertyd hoe nader die afskeid gekom het hoe meer stukkend het ek gevoel.
Lienke het so paar dae voor die skool sluit (22 Junie), begin af trek na my kamer toe. Dit was eers speelgoed, toe haar kosbaarhede. (Twee draad voëltjies wat ek vir haar gegee het een keer met hulle kuier hier, ń engeltjie wat ook van hier af gekom het, haar armbande wat verskeie stories gehad het, haar groen Smackie wat van babatyd by haar slaap, haar Penny pikkewyn, van haar nuwe storieboeke ens. Sy het alles netjies in laaie gepak, terwyl haar eie kamer ń harlaboerla is. Met die sluiting is klomp van haar klere gebring, mooi netjies kom wegpak, want Lienke het nou by ouma kom bly. So het ons bietjie meer as ń week saam gebly, in die aande lang stories gesels, diep gesprekke gehad, na haar en my gunsteling geestelike musiek geluister en soms heerlik saam gesing. Dit was herinnering bou tyd, kosbare tyd.
Sommer so skielik sou sy sê: ouma, no go. Stay with me, oupa can come live here. Don’t go back. My hart wou breek.
Die foto is geneem in die restaurant net voor ons lughawe toe sou ry.
Niks maar niks kan daardie oomblikke beskryf toe ek moes opstaan en gaan nie. Die ou ogies het betraand na my gestaar, my vas gegryp en net gesê:”No go, please no go.” Ek het begin wegstap, die trane het geloop, sy het weer gehardloop en my vas gegryp. Dit was weer losmaak en weg draai en toe breek al my mooi selfbeheersing en my damwalle. Ek is snikkend deur sekuriteit, met almal wat tissues aangee. Siestog die een vrou sê nog: “Looks like somebody loves you very much”. Net om nog trane voort te bring. So het ek op my stoel eenkant gaan sit betraand en beteuterd.
(My geskenk aan Lienke voir ons lughawe toe gery het.)
Selfs later op die vliegtuig het trane maar aanhou biggel. Gelukkig was dit net ń 45min vlug na Vancouver. Na ń gesig was het ek darem my emosies onder beheer gekry.
Gelukkig was my vlug na Toronto bietjie vroeer. Daardie was ń 4ure vlug.
Op Toronto aangekom stap ek dadelik na Ehiopian air se toonbank om my instap kaartjies te kry vir die eerste been na Addis Abeba en ook dan na Kaapstad. Gelukkig is my bagasie van Kamloops deur geboek na Kaapstad. Dit was 7.15 in die oggend, my vlug was elf uur. Nogal uitgesien om op die lughawe rond te drentel, iets te gaan eet en drink voor die 13 ure vlug.
Helaas….. By die toonbank aangeland bekyk die man my kaartjie en sê, nee hy kan my nie help nie, hy gaan net uitvind. Hy loop na die volgende toonbank en praat sy praat, skud kop en loop na ń volgende toonbank, praat weer sy praat, hierdie keer kom roep hy my om daarheen te gaan. Die vrou daar gee my een kyk en sê “wait”, daar staan ek en ek staan, die mense wat daar gehelp word betaal almal $120, ek dink, vandag is die dag dat jy in Kanada bly.
So stap vader tyd aan en ek staan soos ń blomplant wat wag vir water. Op my vraag: “What is going on?”, net ń kortaf “It is Canada air, wait”. Half nege roep sy my en sê ek moet na Canada air se toonbank gaan, hulle sien nie my kaartjie nie.
Ek stap daarheen, verduidelik vir die persoon daar wat my probleem is, haar antwoord is gaan staan in die ry – tik tak tik tak. Die ry is soos Harmansdrup op ń winters more, 9.45 gaan vra ek haar groot asseblief, my vlug is elf uur, kan sy nie help nie. Nee, die ander was voor my daar met hulle kwessies, ek moet wag.
Nou het ek nog nie nat of droog oor my lippe gehad nie, laas op die vliegtuig ń glasie sap gekry. Daar was nie kans om ń pitstop te maak nie. Tik tak….
Toe ek uiteindelik voor kom is dit weer verduidelik, tik tik tik, op die rekenaar, mompel mompel en toe word die telefoon nader getrek. Uiteindelik sê sy alles is nou reg, hulle behoort nou my kaartjie te kan sien. Gaan terug Ethiopian air toe. Weer ń ry, gelukkig die man wat vroeer die rangeerder was van mense, is nou agter ń toonbank en hy sien my en het seker simpatie vir die blomplant wat so lank gestaan het. Woep wap is alles reg. Met my omdraai kom die aankondiging dat my vlug nou begin board. Ek draf om nou my hek te vind. Kry net kans om vinnig ń “washroom” stop te maak, voor ek moet deur stap. Darem is ek op die vliegtuig.
Daar word ons vlug vertraag en sit ons hoe lank op die vliegtuig voor ons opstyg. Ek drink my slaappil, want nou vriende is ek moeg en langs my sit n mamma met n paar maand oue dogtertjie. Ek gaan slaap…
Met die land op Addis, moet ons hol vir ons vlug Kaapstad toe, ek en ń ander egpaar is die laaste mense om op te klim. Hoe lyk Addis se lughawe?, ek weet nie. My skoon klere, was nog net so in my tassie. Ek het darem vinnig my tandeborsel uit my hand bagasie gehaal. So kom ek toe hier aan, teer touerig en vaal.
My blydskap was groot toe ek my man, dogter en die twee pikkewyne sien. Hulle moes maar verskoon as daar ń muwwe Kanada klankie van my af gekom het.
My land, my mense.
My huis het skoon vreemd gevoel en my roetine was chaos. Dit is more ń week dat ek terug is en my slaap patrone is in hulle tjops. Dis alweer 12 uur en hier sit ek en blog. My boek langs my oop gevou.
(My 2 pikkewyne hier)
Dis so hartseer dat jy haar so min sien. Sterkte
LikeLike
Wat ń vlug! Ek is so bly jy is in een stuk terug. Jou storie laat my terugdink aan die keer toe ons mekaar op Singapore lughawe moes kry vir Bangkok. Onthou jy nog? Ek weet jou hart is seer oor jou Lienke; mag die ander twee engeltjies hul ouma opbeur en dit effens makliker maak.🌹
LikeLike
Ek vertel nogal net voor my vertrek dit vir die kinders en sê, ek wil nie daai jaag he nie dis te senu tergend, so ek is bly ek het genoeg tyd tussen vlugte. Daar jinx ek toe seker my reis. Moet sê, ek was darem nie so nat gesweet nie. Onthou jy die keer in Java toe ons, ons vlug verpas het?
LikeLike
🙈🙈
LikeLike
Lienke se SA familie betrag ek deur ‘n waas van trane namens haar en haar ouma… Hoe heerlik is dit as ‘n kleinkindjie mens se kamer so betrek! Mag julle sommer binnekort weer mekaar kan vashou.
LikeLike
Ek weet dit sal nie gou wees nie, dis wat so erg is. Dankie vir die inloer Frannie
LikeLiked by 1 person
Hierdie ouma voel saam met jou.
LikeLike
Dankie Toortsie, ek mis my Lielie pit baie. Daai ou klein fyn lyfie warm teen my genestel.
LikeLiked by 1 person
Ek weet ek weet ❤️
LikeLiked by 1 person
Reblogged this on Wag 'n Bietjie.
LikeLiked by 1 person