Ek is afrikaans, ek dink in afrikaans, ek droom in afrikaans en as ek met my God praat, praat ek afrikaans.

Ek het baie loop en dink oor hierdie “eier”. In my hart weet ek ons taal sal bly, ons sal hom praat en sing en dink. Hy sal verander, soos dit gaan met ontwikkeling. Sal hy leliker of platter raak, ek weet nie. Ek haat erge anglisismes, soos die in blokraaisels. Dit maak my taal verbaster klink.

Ons het so ń rykheid in ons taal, al die verskillende streeks taal, ons moet dit omarm en die mooi daarin raaksien. Ek het hier in die Kaap kom leer van ń draggie hout, die vuurtjie brand steek, die vrugte wat so soet is soos moedersmelk en vele meer. So het namakwaland ook sy eie woorde en klank.

Ons spot goedertrou met mekaar se praat – Die “po” en “mo” van die Pretorianers. Die “ék” en “plék” van die Kapenaars, die brei klank van die Swartland. Alles pragtig in afrikaans.

Vanoggend staan ek in my tuin, eet sommer die appelliefies so by die bos. Besef ek wat ń mooi woord is dit nie.

Ek het met my kinders se vestiging in Kanada besef hoe die saffers hulle afrikaanse kultuur en taal omhels en gaan soek. Hulle hang afrikaanse woorde in hul huise, luister afrikaanse radio stasies, kyk afrikaanse tv. Dis asof hulle eers met hul weg wees, die skat van afrikaans ontdek. Ons kleindogter was 18 maande toe hulle na Kanada is. Sy praat nog afrikaans, welliswaar met ń Kanadese aksent, maar nietemin en sy lees afrikaans. Sy is nou 7 en ń half jaar oud.

As ek so alleen oorsee gegaan het vir aankope, klink afrikaans vir my soos hemelse musiek op my ore as ek dit iewers hoor. Dis so lekker om net jou taal te kan praat.

Ons het die mooiste idiome en met die gebruik daarvan skep ons sommer, met party van hulle, ń geskiedenis les. Jy is weer so stadig soos harlemensis op ń wintermore as ń voorbeeld. Idiome maak ons taal ryk. Ons kan selfs nuwes skep en byvoeg, so ook woorde.

Ek luister RSG, hierdie jaar is die radiostasie 80 jaar. Vanoggend saai hulle toe uittreksels van radio dramas, hoorbeelde en voorlesings uitvan die laaste 80 jaar. Terwyl ek daarna luister besef ek net ons het so ń mooi skatkis uit ons taal se geskiedenis wat behoue moet bly. Die onus rus op ons om ons kinders bloot te stel hieraan en hulle lief te maak vir afrikaans.

Ons het so ń skatkis van mooi musiek, talle digters se werke wat verwerk is in musiek. Ons het soveel wonderlike begaafde mense wat vir ons kan skilder met woorde in afrikaans. My taal is vir my mooi.

Ek staan glad nie onskuldig in die feit dat ek ook my taal meng nie. Ek leen ook woorde wat lekker sê. Dit maak my nie minder van ń liefhebber vir my taal nie.

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). 

 

 

16 thoughts on “My taal

  1. Jy’s reg. Ons moet ons taal praat en skryf soos wat dit vir ons lekker klink. Ek is self skuldig daaraan om te sê ek “laaik” iets, of ek “smaail” mooi – ek pleit digterlike vryheid al is ek nie ‘n digter se agterent nie. Ek is beïndruk met jou kleindogter wat Afrikaans praat.

    Like

    1. Moet sê haar aksent laat ons soms bietjie in ons mou lag, maar dis kosbaar. Haar pa vertel haar so ewe ons kan nie engels praat nie, so sy moet met ons afrikaans praat. Siestog nou die dag sê sy so ewe: “Ek kan nie die woorde kry nie”.

      Liked by 2 people

Lewer kommentaar